“Sy woorde droog op. ’n Koue rilling gaan teen sy ruggraat af. Hy herken die oë wat deur die blare vir hom loer …”
Kreng is ʼn ongewone kortverhaalbundel. Die stories vermeng nie net elemente van magiese realisme en fantasie nie, maar daar is iets sinister onderliggend teenwoordig. Met Die ander een is Paul op ʼn staptoer in die Krugerwildtuin waar hy deur iemand uit sy verlede gekonfronteer word, terwyl Kreng die leser behoorlik die skrik op die lyf jaag wanneer die hoofkarakter poog om met sy dooie geliefde te herenig. Maar Blerts, Die jongeling en Mellie verlig die spanning – dit is eerlike verhale oor die uitdagings van menswees. Dis egter Die geleentheid – ʼn ‘onskuldige’ partytjie wat vinnig ontbind – en Die gejeuk waar ʼn pasiënt ʼn onortodokse dokter besoek, wat die leser laat gril en met die groot vraag laat: wat gebeur as die onaardse die goeie in mense oorneem? Dit is dan wanneer die leser besef: die skeidslyn tussen die goeie en die bose is ragfyn …