Karakters
Ontmoet die karakters van die Jungu Josh-reeks
Hoofkarakters
Joshua McGreer
Josh is dertien jaar oud en die hoofkarakter. Hy word groot in Londen en bly die laaste twee jaar by sy tannie Verona en haar gesin op hul plaas in Afrika.
Toe sy ma wegraak, word hy in haar plek koning van Kalimbula, ’n geheime vallei iewers in Oos-Afrika. Hy staan bekend as Hoofman Zimbila – die Ratel.
Josh beleef talle moeilike uitdagings om Kalimbula en haar mense teen verskeie bose vyande te beskerm.
Die Professor
Die professor is een van Kalimbula se grootste vyande. Hy maak kurizas (zombies) van die mense en diere wat dan sy volgelinge word wat hy beheer en wat al sy opdragte uitvoer. Hy wil die hele Kalimbula en die res van Afrika so beheer.
Hy glo Josh se bloed is die kuur wat sy volgelinge weer normaal sal maak. Omdat hy bang is hy gaan so beheer verloor, is hy op Josh se spoor om hom dood te maak.
Die professor staan ook bekend as Impizi (die hiëna).
Verona Barrington
Verona is Silvia se suster en het ook in Engeland grootgeword. Sy behartig die boerdery op Demsley, hul Afrikaplaas, nadat haar man Walter in 'n rolstoel beland. Sy is gemeen, wreed en hardvogtig en gee eintlik net vir haar twee dogters om.
Njeri Nagadingo
Njeri is ’n vyftienjarige meisie wat in Kalimbula bly. Sy word Josh se beste vriend en is een van die Viermanskap wat Josh help met sy moeilike en gevaarlike take as koning.
Sy is lank en lenig, en ’n baie goeie vegter. Sy is liggaamlik sterk en rats. Sy word maklik kwaad, maar is bo alles ’n lojale vriend vir Josh.
Prinses Dilifu die kryger
Sy is Hoofman Pingana se enigste dogter en het twaalf jaar gelede op die Sombameer verdwyn. Die mense van Kalimbula het haar op die meer weggestuur (geoffer) sodat die voorvaders vir die land reën stuur. Maar anders as wat haar pa en die res verwag het, het sy nooit teruggekom nie.
Masjeba die heks
Masjeba is ook een van Kalimbula se vyande. Anders as die professor, wil sy heerser word van Kalimbula.
Sy is boos, ’n oortuigende leuenaar en gebruik sterk toorkuns. Daarom is sy ’n groot gevaar vir die land en haar mense.
Sy bly in ’n boomhuis in die Kuvura-woud – ʼn dooie landskap met vreesaanjaende diere. Een van haar helpers is Tai, die aasvoël.
Ngandu die wyse man
Ngandu is een van die oudstes en ook een van die twee wyse manne in Kalimbula. Hy word Josh se raadgewer en help hom met die uitdagings tydens sy koningskap. Hy is ook een van die Viermanskap, die binnekring van Josh, en ook Josh se skakel tot die oudstes in die vallei. Hy het Charlie grootgemaak. Hy is baie eksentriek en bly alleen in ’n grot in die Blouberg. Alhoewel hy eienaardige, lawwe goed doen, is hy ’n slim ou man wat Josh help om oplossings te kry om Kalimbula se vyande te verslaan.
Die Sifashama
Die sifashama bestaan uit van die oudstes van die vallei. Hulle is anoniem en dra rooi boombasmantels. Hulle gesigte word bedek deur groot kappies wat ver oor hulle gesigte getrek word.
Hulle staan die koning by met raad en hul dra Kalimbula se belange op die hart.
Charlie die aardwolf
Charlie is die vierde lid van die Viermanskap. Hy word Josh se getroue vriend vanaf hul eerste ontmoeting en vergesel hom gereeld op sy ekspedisies. Hy trek by Josh in en bly saam met hom in die koningshut. Hy slaap hoofsaaklik in die dag en swerf deur die vallei in die nag op soek na kos. Hy is mal oor termiete en rysmierkoekies. Hy word ook die Saggeaarde Dapper Een genoem.
Silvia McGreer
Silvia is Josh se ma. Sy gee klas aan ’n universiteit in Londen en het saam met die professor navorsing gedoen op die rooimuishond in Kalimbula. Sy het vermoedelik ’n kuur ontwikkel wat die zombies weer normaal sal maak en het dus een van die professor se vyande geword.
Silvia het twee jaar gelede verdwyn en almal glo sy is dood. Sy staan ook bekend as Jandenga, die heuningvoëltjie.
Ander karakters
Walter Barrington
(Wally)
Wally is Verona se man. Hy is in ’n rolstoel nadat hy in ’n perdry-ongeluk beseer is. Hy was ’n vriendelike, aangename man en was soos ’n pa vir Josh, maar na die ongeluk kan hy glad nie meer praat of beweeg nie.
Akunu die ystersmid
Akunu is ʼn Uchubi-man wat Silvia en die professor vir jare lank gehelp het met hul navorsing in die vallei. Hy woon in Bodonga saam met sy vrou waar hy ʼn ystersmid is.
Uchubi’s
Die Uchubi-stam is die tweede grootste stam van Kalimbula. Hulle is ernstige, stil mense met ʼn antieke taal en eeu-oue tradisies. Hulle woon hoofsaaklik in die hoofdorp, Bodonga.
Gwanga-gudjus
Gwanga-gudjus bly in Aboemondja. Hulle het groot, ovaalvormige koppe en groot hande. Hulle is baie sterk en beskik oor uitsonderlike reukvermoë as gevolg van hulle ses neusgate en slymvliese. Hulle kan nie praat nie en kommunikeer met mekaar deur aanvoeling. Hulle is baie wreed en onvoorspelbaar.
Wamombi
(Doris)
Doris werk vir Verona op die plaas en versorg ook vir Wally. Sy is ook Silvia se vriendin. Sy help en beskerm Josh terwyl hy op die plaas bly nadat sy ma verdwyn het. Haar Afrikanaam is Wamombi en sy kom oorspronklik van Kalimbula af.
Tarampi die wyse man
Hy is die ander wyse man in Kalimbula en het die vorige koning, Hoofman Pingana, met raad bygestaan. Hy bly in die gevreesde Mabandiberge in ʼn berghut en is Ngandu se vriend.
Die Gubazozo
Die Gubazozo is ʼn monster wat net deur sjamanisme (antieke, donker toorkuns) elke 200 jaar opgeroep kan word. Hy is uiters boos. Hy is vir byna alle mense onsigbaar en ’n mens is slegs van hom bewus deur ’n metaalsmaak in die mond en soms ’n geruis soos hy naderkom.
Kurizas
Kurizas is siellose zombies en die professor se maaksels. Hy gebruik die rooimuishond se besmette bloed om mense en diere in sy volgelinge te verander. Hulle voer al sy opdragte getrou uit.
Muriel Barrington
Muriel is sewe jaar oud en die jongste dogter van Wally en Verona. Sy het sproete en ’n ronde lyfie en is nie so slim soos haar suster nie. Sy is baie bedorwe en kry alles wat haar hart begeer.
Tai die aasvoël
Tai is deur Masjeba die heks grootgemaak en hy is haar helper, vertroueling en vriend.
Magani’s
Die Magani-stam is die grootste stam van Kalimbula. Hulle is opgeruimde en vrolike mense, wat daarvan hou om sosiaal te verkeer. Hulle bly hoofsaaklik in Liba, Stat van Konings, en Kipoko, die handelstat.
Minokkos
Bose klein mannetjies wat in die Gombi-moerasse aan die rand van die Kuvura-woud bly. Hulle het groot koppe en kort lywe; dra maskers met reusemaanhare, spierwit gesigte en klein skrefie-oë. Hulle hop en spring en kommunikeer deur middel van snorke, gille en gromme. Hulle eet alle soorte vleis.
Etta Barrington
Etta is die negejarige (en oudste) dogter op die plaas en verskil heeltemal van haar suster wat voorkoms en geaardheid betref. Sy is lank en maer met ’n spitsneusie, wit vel en swart hare. Sy is ’n slimkop en Josh kom met haar die beste oor die weg.
Smithy die papegaai
Smithy is die Barrington-gesin se papegaai. Hy praat graag, maar is ʼn moedswillige terggees en byt graag vingers.
Hoofman Pingana
Hoofman Pingana is die vorige koning van Kalimbula en is twee jaar gelede dood. Op sy sterfbed het hy Silvia as opvolger aangewys omdat sy twee kinders verdwyn het. Sy plan was om deur Silvia Kalimbula teen al die vyande te beskerm.